the PLAN-die PLAN

The church with a difference makes an intentional difference!

Preke

Plan Boublok 1.1

z-tc-du-toit-9  TC du Toit

BYBELSE BEGINSEL VAN DIEPLAN – BOUBLOK

  • 1 Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God waardeur Hy Homself sowel as sy Plan             met die skepping bekend maak.

MATERIAAL UIT ONS IS DIEPLAN HANDBOEK

  • Deel 3.11 Die Ou Testament – bl 41-49
  • Deel 3.12 Die Nuwe Testament – bl 50-55
  • Deel 3.13 Die plan vervul – bl 56
  • Deel 5.17 Sola Scriptura – bl 63-68

ONS IS DIEPLAN – 9 WEKE VAN TRANSFORMASIE – BYBELSTUDIEBOEK

 Week 1 – Dag 2 ’n Dobbelaar? – bl. 4-6

  1. SKRIFGEDEELTE

Handelinge 6:7-15; 7:44-53

  1. EKSEGETIES

As agtergrond vir ‘n moontlike preekteks word die hele gedeelte van Handelinge 6:1 tot 7:60 geneem, aangesien dit ‘n eenheid vorm wat die verhaal van Stefanus aan ons oordra.

Waarom is hierdie gedeelte gekies ten opsigte van gemelde boublok?  Dit is die God-geïnspireerde Woord, Wet en Profete, wat vertel van Sy pad met sy volk deur die geskiedenis heen.  Stefanus gebruik dit as die basisteks van sy boodskap dat God ’n plan met Israel (en ook die Kerk) in die wêreld het.

Die manier waarop Stefanus, een van die eerste diakens in die vroeë Christelike kerk, in hierdie gedeelte beskryf word, laat geen onduidelikheid daaroor dat hy op ’n besondere manier ’n geïnspireerde dienskneg in die hand van die Here was nie.  Dit is duidelik dat die Here besondere insigte aan hom gegee het oor sy (God se) betrokkenheid in die geskiedenis van die kerk.  Hy was (6:5-15; 7:55):

  • ‘n man met ’n vaste geloof en vol van die Heilige Gees
  • aan wie God baie genade en krag gegee het
  • met wysheid wat hy van die Gees ontvang het en waarmee hy gepraat het
  • sien hulle dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk
  • vol van die Heilige Gees.

‘n Mens sou hierdie gedeelte soos volg kon verdeel:

6:1-7 – Die agtergrond waarteen Stefanus as ’n diaken aangewys is.

6:8-7:1 – Sy kort bediening, inhegtenisname en die klagstaat teen hom.

7:2-7:53 – Sy verweer voor die Joodse Raad.

7:54-7:60 – Stefanus se moord.

Die fokus vir hierdie preek sal op sy verweer (7:2 – 7:53) wees.  Eintlik vorm dit ’n preek waarin hy, onder leiding van die Heilige Gees, ’n geïnterpreteerde oorsig oor die handelinge van die Verbondsgod met sy volk deur die gang van die geskiedenis gee.  Herhaaldelik gebruik Stefanus woorde wat dui op God se handelinge:  ‟God het”, ‟het God”, ‟Ek het”, ‟Ek het”, ‟God sal”, ‟sal Ek”, ensovoorts.  Minstens 27 keer word daar in die bestek van hierdie klompie verse daarna verwys dat God die handelende Een is.

Stefanus se verweer/preek:

Handelinge 7:2-16 is hoofsaaklik ’n beskrywing van die geskiedenis van die aardsvaders, Abraham tot Jakob en van die volk Israel se verblyf in Egipte.  Opmerklik is die gedeeltelike onvervuldheid van die beloftes aan Abraham.  Hy kon eintlik net deur die geloof die einddoel, waarheen God met hom op pad was, sien.  Sy lewe saam met God was ’n onder-weg-wees – God in beweging!  Isak, die teken van Abraham se onvermoë en God se trou en Jakob, die tweede geborene, ’n bedrieër, word slegs vermeld as die volgende treë van God se besigwees met sy mense.  Josef ontvang ’n klein bietjie meer aandag in Stefanus se preek.  God se bestieringe en seën oor Josef, te midde van ongeluk en rampe wat hom tref, blyk duidelik.

Dit alles het ingepas by God se beplanning en ‟tyd” (kronos) vir die vervulling van sy beloftes aan Abraham:  ‟Teen die tyd dat God die belofte wat Hy aan Abraham gegee het, sou uitvoer, het die volk in Egipte reeds tot ’n groot getal aangegroei.” (7:17 – my kursifering)  Alles dui, volgens Stefanus, daarop dat God se beplande ‟tyd” (kairos) nou aangebreek het in Moses:  ‟In dié tyd is Moses gebore …” (7:20 – my kursifering).

Moses se verhaal en pad saam met die volk van God (7:20-43) ontvang die meeste klem in Stefanus se preek en word met groot detail vertel.  Stefanus verstaan Moses se verhaal só, dat Moses God se hand gesien en as roeping beleef het in die feit dat hy die kindermoord oorleef en aan die Egiptiese hof opgegroei het.  Toe Moses as veertigjarige ingryp ter wille van sy volksgenote, ‟… het hy gemeen sy mense sou begryp dat God hom wou gebruik om hulle te red, maar hulle het dit nie verstaan nie” (7:25).  Moses se verbroude poging, omdat hy nie wou wag op God se tyd nie (?), kom dan ook eers nóg veertig jaar later op dreef wanneer God Sélf die oomblik van ingryping in die geskiedenis aankondig (7:30 e.v.) en in werking stel.  In die broeikas van die Egiptiese slawerny het God sy belofte van ’n volk ’n werklikheid laat word en nou was sy tyd daar om die belofte van die land in vervulling te laat gaan.

Dit blyk dat dit vir Stefanus belangrik is dat sy toehoorders iets sal verstaan van Moses se roeping om as die ‟leier en redder” (7:35) van God se volk uit Egipte op te tree.  Verder ontvang die verwerping van Moses, juis as leier en redder, ook baie klem (7:25; 7:35 en 7:39).  Deur hierdie verwerping van God se leier op die regte tyd, blyk dit duidelik dat God self sodoende ook verwerp word.  Daarom volg die Goddelike oordeel soos in 7:40-43 beskryf.

’n Sleutel in die verstaan van die besondere aandag wat aan Moses gegee word, is waarskynlik die parallel wat Stefanus (onuitgesproke – in sy toepassinglose preek) hier trek tussen Moses en Christus.  Daarom is Moses se woorde, soos deur Stefanus in 7:38 aangehaal, van groot belang:  ‟God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom.”  Dit sou in verband gebring kon word met Stefanus se boodskap van oordeel oor die lede van die Joodse Raad en die hoëpriester in 7:51 en 52.  Dus, Christus die Leier en Verlosser wat soos Moses in die tyd gekom het, is deur die Israeliete en hul leiers, soos Moses, verwerp.

Daar is ’n tweede saak waarmee Stefanus aandui dat God al van lankal af besig was om planmatig deur die geskiedenis te beweeg, iets ten opsigte waarvan die Joodse leiers nie die kloutjie by die oor kon kry nie, naamlik die plek en rol van die ‟tent met die getuienis” en die ‟tempel” (7:44-50).  Dit is asof Stefanus die Joodse leiers wil help om, as hulle dan nie die parallel tussen Moses en Christus as God se vervulde belofte in die tyd verstaan nie, die tabernakel en tempel as ver-beeld-ing te gebruik om sy boodskap tuis te bring.  Vir die Joodse leiers was daar nie twyfel dat die ‟tent…in die woestyn” reeds die reisende volk van God se teenwoordigheid en bemoeienis met hulle verseker het nie.  Uiteindelik het die statiese tempel hierdie rol oorgeneem.

Dat die Joodse leiers op ’n manier hierdie inwoning van God by sy volk misverstaan het, blyk uit die teregwysing van Stefanus in 7:48.  God woon nie in geboue wat deur mensehande gemaak is nie!  God kan nie vasgevang, ingeperk word nie!  God het nie gestagneer nie!  Hy is nog steeds die God wat planmatig op weg is deur die geskiedenis.  Soos Moses is ook die tabernakel en tempel maar slegs bakens van sy onderweg wees:  Moses as die voorloper- leier en verlosser, die tabernakel en tempel as die voorloper-teenwoordigheid en inwoning van God by sy mense, in ‟tempels” wat nie met mensehande gemaak is nie.

Stefanus se preek is aansienlik moeiliker wanneer dit by sy toepassing (7:51-53) kom.  Dit is ’n groot sprong wat hy maak tussen sy herinnering aan God se handelinge met sy volk in die geskiedenis (a.d.e.k.) en die weerstandigheid van die Joodse leiers teen die vervulling van God se ewige plan in Christus (a.d.a.k.).  Klaarblyklik doen hy dit omdat dit nie vir hom nodig was om dié Joodse geleerdes te help om die lyn, tussen wat hy sê en hul verwerping van Christus, te trek nie.  Hul eietydse teologiese klem op Moses en die tempel sou hulle waarskynlik onmiddelik laat snap het waarop hy sinspeel.  Hul reaksie in 7:54-58 is waarskynlik getuie daarvan.

  1. HERMENEUTIES

 Die tema vir ’n preek vanuit hierdie Skrifgedeelte sou aangetoon kon word as:  Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God waardeur Hy Homself en sy plan vir sy skepping openbaar.

Stefanus se hele aanloop vanuit die heilsgeskiedenis is as’t ware soos die inmekaarpas van ’n legkaart, wat oënskynlik maklik vir ’n mens duister kan bly indien jy weerstand bied teen die openbaarmaking van God se plan deur Woord en Heilige Gees (7:51) – ‟Julle is doof vir die Woord van God en julle weerstaan altyd die Heilige Gees”.  Die inmekaarpas van hierdie Goddelike legkaart maak jou oë oop om te kan sien dat God, deur al die eeue, nie doelloos en rigtingloos op weg is met die mens nie.  Sedert sy roeping van Abraham, was Hy reg deur die heilsgeskiedenis onderweg na die openbaarmaking van sy verlossingsplan deur sy Seun, Jesus Christus.  Efesiërs 1:4 – 14 sou in hierdie verband as Paulus se weergawe van Stefanus se preek gesien kon word.

Die tekenkarakter van die tabernakel, en later die tempel, sou ‘n groot rol speel in God se op-weg-wees na die uitvoering van sy plan.  Die mobiliteit van die tabernakel was tekenend van God se voortdurende teenwoordigheid by sy volk op pad na die vervulling van die belofte van die beloofde land.  Later sou die tempel in Jerusalem, die Godstad, tekenend wees van sy teenwoordigheid by sy volk binne-in die land waarin Hy hulle tuis gebring het.

Dit is blykbaar hier waar die teologie van die Joodse leiers gestol het, saam met die gebou van Salomo, die vaste tempel.  Dit wat God vir Dawid soveel jare vroeër gesê het (2 Samuel 7), dit wat hierdie leiers duidelik moes onthou, is misverstaan.  Hulle het vergeet dat God nie woon in ’n huis van sederhout nie, maar in die ‛huis van Dawid’.  ’n Seun uit die nageslag van Dawid sou opstaan/gebore word, en deur Hom sou daar ’n huis van God tot stand kom.  Nié die handgemaakte huis deur Salomo soos die Joodse leiers gedink het nie, maar ’n ewige huis, menselewens  in wie die Heilige Gees woon, wat opgerig sou word deur die Seun van Dawid, Jesus Christus!  Dit sou die huis wees waarvan Hý die hoeksteen sou wees (Efesiërs 2:19 e.v.).  Dít wou die Joodse leiers nie aanvaar nie, selfs al het die voorhangsel in die tempel in twee geskeur toe die Seun van Dawid sy laaste asem op Golgota uitgeblaas en daarmee die einde van ‘n bedeling aangekondig het – die vervulling van God se plan vir ’n geestelike huis wat tot stand sou kom.  Immanuel, God met ons!

  1. HOMILETIES

TEMA:  Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God waardeur Hy Homself en sy plan vir sy skepping openbaar.

TEKS:  Handelinge 7:2-53.

4.1 Inleiding

Elke prediker kan hier miskien ’n soortgelyke inleiding uit eie ervaring, soos hieronder           weergegee, gebruik.

’n Sekere predikant se verhuising vanaf Hartswater (Vaalharts) na Tsabong (Kgalagadi, Botswana) was ’n skuif na ’n nuwe wêreld wat nie voorheen so naby aan sy lyf gekom het nie!  Dit was ’n skuif vanuit die welvarende boerderygemeenskappe van Vaalharts, na gemeenskappe in Botswana wat oorwegend met intense armoede worstel.  Die bestaansboerdery in die Kgalagadi geskied onder die moeilikste omstandighede.  Die semi-woestyn met boorgate wat net soutwater oplewer, soms só sout dat geen dier dit kan drink nie, asook leeus en jakkalse, is maar van die enkele dinge waarmee hulle te kampe kry.

Hierdie wêreld van armoede dra ’n armoedekultuur van hooploosheid en verwagtingloosheid met hom saam.  Die ding wat die meeste opgeval het, was die gebrek aan gemotiveerdheid en visie by die mense.  Dit is asof die gemeenskappe in Botswana plan-loos is en absoluut niks kan doen om hulle omstandighede enigsins  te verander nie!

Die verskil tussen hierdie twee wêrelde, Vaalharts en die Kgalagadi het vir die dominee simbolies geword van die kerk.  Sommige gemeentes leef ook ’n geestelike ‛armoede-kultuur’ van oorlewing en ’n fokus slegs op die bevrediging van eie behoeftes.  Daar is geen duidelike doel of visie om na te streef nie.  Die begeerte om te werk en ’n verskil te maak, is lankal verlore.

Ander gemeentes is soos die meerderheid Vaalharts-boere wat elke dag presies weet waarvoor hy opstaan en wat vir hom vir die dag voorlê.  Hy is besig met ’n plan vir sy boerdery.  Hy weet wat hy wil doen en is elke dag besig om uit te sorteer hoe hy daarby wil uitkom.

4.2  Ontknoping en toepassing van teks

Handelinge 7 getuig daarvan dat God nié planloos besig nie!  Stefanus se verduideliking aan die Joodse Raad en hoëpriester is eintlik ’n preek wat hy lewer.

Beginnende by Abraham se roeping verduidelik Stefanus dat God nie sommer maar net vir Abraham vir die snaaksigheid geroep het nie.  Nee, God was op ‘n missie!  Hy het presies geweet waarheen Hy oppad is.  Aktief!  Minstens 27 keer sê hy God het of iets soortgelyks.  By Stefanus is daar geen twyfel dat God regdeur die geskiedenis van sy volk die handelende Een is nie!  Stefanus se herinnering aan die heilsgeskiedenis kan kursories in die preek aan die orde gebring word, deur van die materiaal in 1 en 2 hierbo te benut.

Dit moes vir die hoorders duidelik gewees het dat Stefanus, met die klem op Moses se verhaal, eintlik besig was om van Jesus te praat!  Hierdie parallel word nog dieper gedryf wanneer hy ’n verband bring tussen Jesus en die tabernakel en tempel, wat simbole van God se teenwoordigheid en inwoning was.

Dit is dié tent waar die Israeliete op die ou end gedink het dat hulle God mooi in ’n boksie vasgevang het, omdat hulle gedink het God het nie ’n plan nie en dat Hy nou aan die einde van sy reis deur die wêreld gekom het.  Sy plan het gestol!  Hy bly nou permanent in die tempel.  Hulle verstaan nie, in vers 48 wil Stefanus vir hulle sê:  ‟God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie”.  Die sigbare tempel was maar net ’n skadubeeld van wat sou kom soos die Hebreërskrywer later ook sou aantoon (Heb 9:1-22).  Dit is net nóg ’n bewys dat God planmatig op weg was.  Die tempel is nie die einde nie.  Nee, dit is die kaart van die plan wat nog in vervulling sou gaan in Christus.

Stefanus voltooi egter nie sy preek nie!  Dit laat mens dink aan ’n opmerking van Brueggeman dat immers geen preek ooit voltooid is nie.  Die res wat Stefanus behoort te gesê het om by die toepassing van sy preek te kom, is aan die Joodse Raad en die Hoëpriester goed bekend.  Hulle het immers Jesus goed nagespeur, die ‟dwaalleraar” wat teen hulle godsdiens te velde getrek het.

In plaas daarvan dat die Joodse Raad en die hoëpriester tot die Goddelike insig van Stefanus kom, word hulle op die ou end maar net deel van dié mense wat God se plan met hulle totaal misloop!  Hand. 7:51-53:  Julle hardkoppiges!  Julle is heidens in julle harte.  Julle is doof vir die woord van God …  julle voorvaders …  het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het.  Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor.  Die gevaar bestaan ook vandag dat die kerk in die wêreld bloot net kan bestaan, sónder om te verstaan waar hulle inpas in God se plan met sy wêreld.

        Stefanus is besig met ’n preek wat nie met uitroepe van amen en halleluja eindig nie, maar met ’n klip teen sy kop!  So sterf hy met ’n visioen wat sê, God is nog steeds onderweg.  Sy plan moet nog finaal en volmaak uitspeel, maar het tog ook rééds gekom:  ‟Kyk,” het hy gesê, ‟ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”  Hy sien die Koning van die koninkryk!  God se storie is nog nie klaar nie, maar Sefanus sien reeds as’t ware die ‛eindproduk’ daarvan.  Die koms van die Koninkryk kan nie meer gekeer word nie.  Al doen mense ook wát, dit is reeds aan die kom.

 4.3  Slot

Ons weet waarom ons ons besighede en boerderye bedryf of waarvoor ons ’n salaris verdien.  Ons is doelgerig en het teikens en drome wat bereik moet word.  Ons wil tog te graag groter en beter leef.

Maar, wat sê hierdie gedeelte vir ons vandag?  God se pad het nie geëindig met sy Ou Testamentiese kerk in die tempel, of met die Nuwe Testamentiese kerk in die hemelvaart van Christus, of met die voltooiing van die Bybel as kanon nie.  Moenie dink Hy het opgehou om planmatig met sy kerk besig te wees, of dat alles nog dieselfde is as 30 jaar gelede nie.  Moenie dink dat God se plan en visie vir sy kerk eindig met die agenda’s van kerkraadvergaderings waarop daar hoofsaaklik oor kerkgeboue en salarisse gepraat word, of waarop daar gestry word of ons sangbegeleiding met ’n orrel of kitaar moet plaasvind nie.

Ons moet oop bly vir die Woord en  die Heilige Gees (7:51).

Maar onthou ook, die kerk is mense, dis óns!  As God dan ’n plan met sy kerk het, beteken dit mos dat Hy óók ’n plan het met jou persoonlik.  Óók dat God nie net ’n plan het nie, maar dat Hy dit ook nog ten uitvoer gaan bring!

Is jy bereid om uit ‛n geestelike armoede-kerkkultuur op te staan en te ontdek dat God vir seker ’n plan het met sy kerk vandag – dat Hy ‛n plan het met hierdie gemeente én met jou persoonlike lewe?

 

  1. BRONNELYS

  Barnes, A. 1798-1870.  Albert Barnes’ Notes on the Bible.  [eSword software]

Bruce, F.F. 1976.  The New International Commentary on the New Testament.  Grand

Rapids, Michigan:  Eerdmans Printing Company.

Clarke, A. 1715-1832.  Adam Clarke’s Commentary on the Bible.  [eSword software]

Henry, M. 1662-1714.  Matthew Henry’s Concise Commentary of the Whole Bible.  [eSword software]

Meyer, F.B. 1914.  Through the Bible Day by Day – A Devotional Commentary. Philadalphia Sundayschool-Union.  [eSword software]

***********************************************

PLAN BOUBLOK 1.2

Ensie 2016a (2)
  Ensie Enslin

BYBELSE BEGINSEL VAN DIEPLAN – BOUBLOK

  • 2 God se Plan lei ons tot die besef dat die heerlikheid en eer aan Hom alleen behoort.

Dit gaan alles oor Hom.

MATERIAAL UIT ONS IS DIEPLAN HANDBOEK

  • Deel 4 Dit gaan oor God – bl. 14-16 (en oorkoepelend oor die hele inhoud van die boek)

ONS IS DIEPLAN – 9 WEKE VAN TRANSFORMASIE – BYBELSTUDIEBOEK

  • Week 1 – Dag 3 Dit gaan oor God – bl. 7-9
  1. SKRIFGEDEELTE

Jesaja 46:1-13

  1. EKSEGETIES

Die profeet Jesaja was die seun van Amos, nie die profeet Amos nie – die Hebreeuse spelling verskil (1:1; 2:1). Hierdie spesifieke deel van die boek (40-50), Deutero-Jesaja,  word egter toegeskryf aan ‘n ander profeet wat nader aan die einde van die Babiloniese ballingskap geleef het.

Vers-vir-vers eksegese:

  1. Bel en Nebo was die bekendste afgode wat deur die Babiloniërs aanbid is en onder wie se beskerming hulle veilig sou voel. Die “hoofgod” was Bel.

Die profeet bestraf die nasies se ydele vertroue in vals gode – mens gemaakte beelde wie se enigste werklike waarde hul oorgetrekte goud, silwer of brons was. Die enigste ware God van Israel sou nie net daardie slegte nasie vernietig nie, maar ook hulle sogenaamde gode.  Hierdie profesie  is vervul toe die Mede en Perse Babilon bestorm het en hulle afgode as deel van die buit weggeneem is.

Die profeet verwys ook na die wyse waarop die Babiloniërs die Jode – God se uitverkore mense – mishandel het.  Hy voorsien ‘n groot rewolusie waar die Babiloniese gode  magteloos gelaat sou word, en God wat magteloos voorkom, verhoog sou word en sy volk sou wreek.

Calvyn was daarvan oortuig dat die profeet selfs verder as die vernietiging van Babilon gekyk het – hy het na die komende Messias, Jesus Christus, gekyk wat alle vals aanbidding aan die kaak sou stel en veroordeel (uiteindelik vernietig).  Deur sy lig en helderheid sou Hy alle duisternis verdryf en uiteindelik wegneem (Vgl. 2 Kor. 6:14-16).

  1. Die vals gode was van geen nut vir hulle aanbidders nie en kon hulle nie red nie. Hul het eerder die diere vermoei wat hulle moes dra, omdat hulle hulself nie kon beweeg of verdedig nie. God, aan die ander kant, het niks en niemand nodig nie.
  2. Hier het die profeet baie mooi die verskil tussen die ware God en die afgode uitgewys.  Waar die “dooie” afgode rondgedra moet word, is die ware lewende God dié een wat sy mense dra – “van die moederskoot af, … van die geboorte af” (OAV) (vgl Ps. 22:9-10, Jes. 49:15-16).  Hier word die Jode só direk aangespreek dat hulle niks anders kan as om tot die gevolgtrekking te kom en te erken dat God alleen die ware God is nie.  God herinner hulle aan sy groot dade van genade en barmhartigheid in die verlede.  Hy gee hulle getuienis van sy genade – en Hy sal daar wees, ook in die toekoms as die getroue en betroubare God.  Wat belangrik is, is sy volmaakte liefde en dat sy mense sy krag sal beleef sodat hulle nie eer aan die afgode sal betoon nie.

Die “oorblyfsel van Israel” – verwys na die feit dat die grootste deel deur hulle opstand vervreemd was van God.  Dit is hoekom die res opgeroep word om te luister na die stem van die een ware lewende God.

  1. Calvyn argumenteer vir die begrip dat die kopulatiewe Hebreeuse “vau” in hierdie geval as “daarom” vertaal moet word: “Ek het julle gemaak… en ‘daarom’ sal Ek julle vashou, julle dra en julle red” (Vgl. Ps. 22:9-10; 138:8 – Hy is die ewige, getroue God!).
  2. Die volk word tereggewys omdat hulle God gewantrou het, aan sy krag getwyfel het en aan Hom ongehoorsaam was deur Hom op dieselfde vlak as die afgode te plaas toe hulle hul hoop op aardse goed geplaas het, in plaas van op God alleen. Dit het God verneder om met dooie mensgemaakte goed vergelyk te word – dit het sy eer weggeneem (Hand. 17:29).
  3. Dié wat afgode aanbid het, moes geskok word deur die profeet se uitbeelding van die realiteit van hul ondeurdagte dwaasheid. In detail word beskryf presies wat hulle gedoen het en steeds besig was om te doen – hulle vra vakmanne om vir hulle goed van hout te maak… en dan bewonder en aanbid hulle selfs daardie produkte van gekerfde hout en geplakte brons, silwer en goud.  Net God kan hulle van hierdie sonde red deur hulle natuur te verander – hulle nuut maak!  (Vgl 2 Kor. 5:17-18).
  4. Die profeet verskerp die prentjie deur die dwaasheid en selfs koppigheid uit te wys van mense wat ‘n god aanbid en dan daardie god optel en dra na waar die aanbidder die god wil neersit. Daar sal dit dan bly totdat die aanbidder dit na ’n ander plek verskuif. Meer nog:  wanneer hy na hierdie handgemaakte afgod roep, kry hy geen antwoord of hulp van die dooie mensgemaakte ding nie.
  5. Calvyn kies die verduideliking dat God nie die “nasies” (ongelowiges) in hierdie verse aanspreek nie, maar die Jode. God noem hulle “oortreders” (vgl. Ps. 50:16) omdat hulle deur ’n ligte versoeking oorwin was en afvallig teenoor God geword het, so asof hulle omstandighede en selfs hulle ballingskap, al die seëninge wat God hulle geskenk het, uit hulle harte kon wegvee.  Vir Calvyn was om van God se genade te vergeet, ’n soort van malligheid.  Dit is hoekom hy ook verkies om die res van die verse as “bloos” – van ‘ish’ – te vertaal  om skaam te wees vir hulle ondankbaarheid en boosheid en na God terug te keer.
  6. Wat hulle moes onthou, was die groot genadedade van God. God wou hê dat die duidelike openbaringe van sy goddelikheid hulle behoort te verhoed het dat hulle hul harte aan aardse,  handgemaakte afgode sou gee.  “Dat ek God is” verduidelik die voorafgaande.  Dit is nie genoeg vir God om erken te word nie, maar dat Hy alléén erken word as die een ware lewende God!   Daar is geen ander nie! (Vgl. Deut. 6:4;   10:6-7,10).  Hy alleen is waardig vir al ons aandag, lofprysing en aanbidding – aan Hom alléén al ons eer (Ps. 115:1).
  7. God verduidelik nou meer volledig op watter manier Hy wil hê die Jode die verlede moes onthou – dat hulle deur konstante voorspellings geleer is. Dan maak Hy onmiddellik die oorgang na hoop op bevryding.

“Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur”:   dit was, vanweë hulle hardkoppigheid, baie moeilik om die Jode te oortuig van die waarheid van hierdie realiteit (Vgl. Ps. 33:9-11).  Hulle is daaraan herinner dat hulle lank gelede, en nie net by een geleentheid nie, geleer het dat hulle hul algehele vertroue in God kon plaas.  Hy is nie net in staat om te voorspel of te profeteer nie, maar ook om dit wáár te maak, omdat Hy die toekoms sowel as die gebeure in sy mag het.  Hy praat altyd die waarheid (Num. 23:19).

  1. Die woorde: “roep ‘n roofvoël uit die ooste” verwys na Kores van Persië, oos van Judea. Ook elders in Jer. 49:22 en Eseg. 17:3 is konings en prinse vergelyk met arende.
  2. God se mense het nie hul algehele vertroue in die Here gestel nie. Hulle harte was nie geraak deur enige belofte wat God hulle gegee het nie.  Hulle het geweier om sy beloftes te glo en so sy genade en barmhartigheid verwerp.  Deur dit te doen, het hulle God self verwerp en was hulle self “ver van God se geregtigheid”.  Daarom het hulle God se redding nodig gehad wat alleenlik deur die Dienaar kon kom wat Israel en die wêreld van hulle sonde sou verlos.  Hulle is deur God tereggewys weens hul hardkoppigheid – “hard in die hart”.  Deur te murmureer het hulle hul vrees vir God afgeskud en dit vervang met woede teen Hom en sy wil.

Hier verleng God sy guns selfs aan dié wat sy genade weerstaan het.  Aan hulle wat tot nou toe nog hardnekkig en “ver van geregtigheid” was, is ’n spesiale waarskuwing gerig, want die bevryding van Israel was aan die kom en hulle moes gereed wees vir wanneer die redding kom (Vgl. Eseg. 2:3:7; Heb. 4:1-2).

  1. Ek bring verlossing. Dit is God se regverdige oordeel wat wraak op sy volk se vyande insluit, maar genade en verlossing vir sy mense – redding wat gou sou kom.

“Sion”:  die berg Sion (Jerusalem) waar God se mense weereens sou gaan woon, sou  “die middelpunt van die herstelde nasie wees” (Delitzsch).

  1. HERMENEUTIES

Die kernpunt om te onthou is die fokus op redding deur die Messias.  Jesus maak hierdie punt duidelik toe Hy mense toegespreek het wat sy mag bevraagteken het om ’n verlamde man op die Sabbat te genees.  “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry.  En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.  Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (NAV – Joh. 5:39-40).

Die fokus van die hele Bybel is Jesus, die beloofde Messias, wat die verlore mensdom red van hul sonde.  Jesus is die fokus van beide die Ou en Nuwe Testamentiese geskrifte en veral in die boek Jesaja.  In Jesaja word die Messias deur twee beelde voorgehou:

*             Die term “Messias”:  Mashiyach is in Grieks vertaal as Christos (xpistos).  Dit beteken “gesalfde” en was in die OT van toepassing op beide konings en priesters (Eks. 29:29).

*              Maar uiteindelik was die term bedoel om op die ewigdurende koning toegepas te          word.  Hierdie Persoon sou kom om in die Joodse teologie bekend te staan as “Die       Messias” – die Een wat Israel sou herstel en red van hul onderdrukkers.

Van al die boeke in die Ou Testament, gee Jesaja ons die mees omvattende begrip van hierdie Persoon bekend as “Die Messias” in God se plan van verlossing en wat eendag oor die aarde as God en Koning sal heers.

God het nie verander nie .  Hy is steeds betroubaar en waar en sal ons nie verlaat of in die steek laat nie… nooit.  (Sien Heb. 13:5b). Volgens Jak 1:18 het God ons deur sy Woord geestelik in die lewe gebring en ons die hoop op ‘n ewige erfenis gegee.

Wanneer ons ook vandag die voorspoed van ongelowiges sien, moet ons nie weer God met afgode vergelyk nie.  (Vergelyk Ps. 73) Hy wat meer as hoorsê- kennis van God het (1 Joh. 1:1-4), sal wéét dat God onvergelykbaar is en dat niks en niemand ooit met Hom vergelyk kan word nie!

Daarom moet hierdie verhouding ook weerspieël word in die tyd wat opsy gesit moet word vir God (in plaas van byvoorbeeld TV, sport, ens.) in ons lewens.

God demonstreer sy unieke persoon:  “daar is geen ander” en “niemand soos Ek”.  Hierdie waarheid is ‘n ewigheidswaarheid. So moet selfs ons vandag steeds herinner word om terug te kyk na “die dinge van vroeër” – om die groot dade van God in ons lewens raak te sien.  Ook ons is geroep om die waarheid dat Hy alleen God is en dat daar géén ander God naas Hom is nie, aanbiddend te erken en te verkondig.  Vergelyk Deut. 4:6; 1 Kron. 17:20.

God verklaar sy meesterskap oor die tyd en gee bewyse van wie Hy is deur sy vermoë om die “Einde” en die “Begin” te verklaar.  Wat is die bewyse van die Bybel dat die God van die Bybel, God is?  Vervulde Bybelse profesieë is God se antwoord.

Alleenlik deur God se genade kan die mensdom ware geregtigheid ontvang, selfs al is hulle in hulself “ver van geregtigheid af”.  Die mens se gebrek aan geloof kan nie die geloofwaardigheid van God nietig maak nie. (Sien Rom. 3:3-4; 2 Tim. 2:13).  As God nie die boosheid van die mens met sy goedheid oorskry nie, dan sou ons almal sonder uitsondering vergaan.  Vergelyk Rom 3:23.  God se teregwysing is beide om die veroordeelde te oordeel wat alle aansprake op hoop van genade verwerp en om terselfdertyd die uitverkorenes te tugtig en hulle op die regte pad van God se geregtigheid te bring.

Die gevolg van sy geregtigheid (“my verlossing”) word deur God bepaal en kan nie ongedaan gemaak word nie. Paulus verbind God se glorie met die genade en barmhartigheid van God (vgl. Ef. 2:1-10). Dit word die beste vertoon in die redding van sy mense, vanaf veroordeling tot die herstel van hul verhouding met God deur sy geregtigheid, deur hulle as geregverdig in sy oë te verklaar, nie oor wie hulle is, of wat hulle gedoen het nie, maar eenvoudig oor Wie Hy is!

HOMILETIES

TEMA:   Daar is niemand soos GOD nie

TEKS:     Jesaja 46:1-13

  • Inleiding

Ons leef in ‘n tyd waarin baie mense opnuut na God vra. Die vraag is egter of dit ‘n opregte soeke na die God van die Woord is, en of dit vir sommige eerder om die “halsbandjie as die hondjie” gaan – met ander woorde: Wat God vir MY kan doen?  In hierdie 2de deel van die Boek Jesaja, waarin hoofstuk 46 ook val, wys Jesaja die volk van die Here daarop om nie na die MENS te kyk, of hul omstandighede te vergelyk nie, maar na die onvergelykbare God self.

  • Ontknoping en toepassing van teks

Die profeet wys op die groot kontras tussen die afgode en die lewende God, op die dwase mense wat, in plaas daarvan om God toe te laat om hulle te onderhou, self probeer om met hul eie “hande” alles te doen in eie krag. Teenoor hulle en hulle geslepenheid en vergeefse moeite, sien die profeet die God van Israel alleen opstaan en die verantwoordelikheid van hul verlossing op Homself neem. “Ek, Ek is Hy.  Kyk op na My, al die eindes van die aarde en julle sal gered word”.

God beloof deur sy profeet om hulle uit hulle gevangenis te bevry en berei hulle voor vir daardie bevryding deur hulle daartoe te lei om die afgode te verfoei en in geloof op die een ware God te vertrou.  Die vals gode sal hulle aanbidders sekerlik in die steek laat.  (Sien ook :5-7).  Wat God sê, is die Waarheid, hul kan Hom wat die beste weet, gló.

Anders as die mensgemaakte afgode wat deur mens en dier gedra moet word, is dit God wat die mens gemaak het en Hyself dra hulle en sal hulle vashou, dra en red  want Hy het hulle gemaak;  hulle is Syne en Hy word nie moeg nie!  Vergelyk 40:27-31.  Sy beloftes staan vir ewig. Soos ‘n skaapwagter die afgedwaalde lam teen sy bors vasdruk, die moeder-arend haar kleintjies op haar vlerke dra en ‘n aardse pa sy kind teen sy bors vashou!  Tog kan géén skaapwagter, of moeder-arend, of aardse pa ooit só dra soos die God van volmaakte liefde nie! (:3-4)

Dan vra die Here Sy volk in vers 5-8 om hul hoop van die aardse, tydelike dinge af weg te vat en op Hom as die Ewige God te plaas!

Hy maak nie beloftes vir aan die einde van ons lewens nie, maar beloftes tot die einde van ons lewens! Daar sal geen oomblik kom wat Hy nie daar vir ons en by ons sal wees nie! Ons kan aan Hom in Wie ons glo, vashou, eerder as aan óns geloof, want Hy het ons met ‘n ewige liefde lief (sien Joh. 13:1b).  God se liefde maak ons nie passief soos ‘n stok in ‘n man se hand nie, maar maak ons eerder deel van die verhouding met Hom, soos ‘n siel die liggaam insluit en meeneem.

Waak daarom téén dogma as slegs kop-kennis en soek ‘n lewende verhouding met die lewende God in Jesus Christus.  Daar is ‘n ewige gaping tussen hulle wat probeer om hul godsdiens in stand te hou (“te dra”) en dié wat God toelaat om hulle te dra.

Daarom wys God Sy volk op Sy wonderdade in hul lewens en herinner hulle daaraan, sodat hulle kan besef:  Waarlik, daar is niemand soos GOD nie (:9).  Dit moet egter meer as net ‘n kop-kennis ding wees.  Dit moet ‘n geloofsoortuiging vanuit die hart wees wat hul lewe sou bepaal en radikaal beïnvloed, naamlik dat aan die lewende God alleen alle lof, eer en dank toekom en dat Hy alleen waardig is om aanbid te word!

  • Hierdie persoonlike verhouding is vir God só belangrik, dat Jesus in Joh. 5:39-40 sê dit gaan nie om Skrifkennis per se nie, maar om na Hom, van wie die Skrif getuig, te kom om lewe te verkry! En sonder die Heilige Gees is dit onmoontlik om die Woord te gló. (1 Tess 2:13; 2 Pet 1:20-21)
  • En ons onthou weer dat Jesus gesê het Hy alléén is die Weg, die Waarheid en die Lewe                        en dat niemand na die Vader kom behalwe deur Hom nie! (Joh. 14:6)

Kyk ook maar terug in jou eie lewe, soos Israel van ouds na God se wonderdade in hul lewe moes kyk… en erken in woord én daad dat Hy alléén GOD is – daar is niemand soos Hy nie! Selfs nie die satan nie – hy is net ‘n gevalle skepsel (engel) en het géén mag bo of naas God nie!

God alleen is soewerein, alwetend, alomteenwoordig… Sy volmaakte wil sal geskied tot sy eer.  Dis vir elkeen wat glo tot troos en nie tot kommer, twyfel of onsekerheid nie.  Dis net die hardkoppige mens wat sy rebelse sondige natuur laat heers, wat die lewende God teenstaan. Tog kan niemand God keer om God te wees nie!  Hieraan hou die gelowige vas.

  • Slot

Waartoe bring dit ons?:

 

Tot die besef, nee, die erkenning en belydenis: “Daar is niemand soos GOD nie!” – Hy laat  alles gebeur volgens SY volmaakte wil – nie oor wie ons is nie, maar gewoon oor WIE HY IS! (:10-13).

Juis daarom is dit so hartseer dat soveel mense vandag nog steeds die ware lewe in Jesus Christus verruil vir afgode soos godsdienstigheid, kerkspeel, voorgee-lewens, geld, goed, besittings, my werk, tv, sport, ens.

Vraag: Watter plek het God regtig – in JOU daaglikse lewe? (Eseg. 36:19-23) – en in ons gemeente?

Die Here nooi jou en my vandag opnuut uit om te erken dat die lewe nét in Hom is; dat daar buite Hom geen hoop is nie; dat daar niemand soos Hy is nie: (Ps. 39:8; Jes. 46:9)

Kom ons bely vanoggend voor God:  “Ek glo! Ek GLO! Ek GLO!”…

 

AMEN

 

  1. BRONNELYS

 

Henry, M. 1706. Matthew Henry’s Concise Commentary on the Bible. URL: http://www.ccel.org/ccel/henry/mhcc.html  (Rights: Public Domain)

Calvin, J. Reprint 1981. Calvin’s Commentaries Vol VIII, Isaiah 33-66. Baker Book House Company, Grand Rapids, Michigan.

Aalders, G. 1952. Oud-Testamentische Kanoniek. J.H. Kok, Kampen.

Delitzsch, F. 1889. Commentar über das Buch Jesaja. Leipzig.

Piper, J. 2013. John Piper on Isaiah 46. Desiring God Foundation. (Internet: www.desiringGod.org) – ©2013 Desiring God Foundation. Permissions: “You    are permitted and encouraged to reproduce and distribute this material in its entirety or    in unaltered excerpts, as long as you do not charge a fee.”  

Guzik, D. 1997-2003. David Guzik’s Commentary on the Bible. (Internet: http://www.biblestudytools.com, http://www.StudyLight.org)

Statham, WM and Tuck, R. Reprint 1981. The Pulpit Commentary. Eerdmans.

Nicoll, WR.  Commentary on Isaiah 46.   (Internet:www.StudyLight.org)  Copyright Statement: “These files are public domain”

Hutchcraft, R. 2002. You can finish the race.( Taken from: Monday Fodder, by Dave Aufrance, dgaufaaa@iohk.com)

 

****************************************

Leave a comment